Gevaarlike rytoestande in die Giro del Trentino het teweeggebring dat meer as die helfte van die peloton Sondag gelas is om in die helfte van die laaste skof op te hou ry.

Vier van Suid-Afrika se ses vrouejaers was onder die groep en hoewel dit nie goed lyk vir Suid-Afrika se vroue nie, het dit niks met hul vermoëns te doen gehad nie.

Die roete was baie gevaarlik teen berghange en die paaie was uiters nat en gevolglik glad. Ofskoon die organiseerders rede vir hul besluit gehad het, was Anriëtte Schoeman erg ontsteld: “Ek kan dit nie glo nie. Dis ridiculous,” het sy agterna haar misnoë te kenne gegee.
 
Schoeman, Yolandi du Toit, Anette Loubser en Hanlie Booyens is met sowat 40 km oor na die einde – die skof is oor ‘n afstand van 94 km beslis -  gewys dat hulle van die pad moet trek. Sowat die helfte van bondel moes ophou. Schoeman was in daardie stadium aan die voorpunt van die bondel.

Dianne Emery was gelukkig genoeg om deel van die voorlopers van die skof te wees, en het klaargemaak. Die skof is gewen deur Tina Liebig wat vanaf die 2de skof haar voorsprong van 7 sekondes verdedig het.

Anke Erlank het met sowat 39 km voor die einde van die toer ontrek weens ‘n erge verkoue.

Buiten die telleurstelling in die finale skof was die gemoedere steeds hoog onder die SA ryers.

Die span het ook ‘n uitnodiging ontvang na die vroueweergawe van die Giro d’Italia, maar dié ter elfder ure uitnodiging het min ruimte gelaat vir die vroue om ordentlik voorbereid te wees.

Erlank het verpligtinge in Amerika en selfs al was sy beskikbaar sou die Suid-Afrikaanse Fietsryfederasie nog twee vroue na Italië moes haas om betyds te wees vir die toer.

Volgens die SA keurder, Tony Harding, sal die uitnodiging in alle waarskynlikheid aanstaande jaar weer gedoen word, “en dan sal die vroue ordentlik kan voorberei”.

Die Suid-Afrikaners het gewys dat hulle met min tot geen internasionale ervaring in mededingende fietsry nogsteeds ‘n span is om mee rekening te hou.

Die Giro del Trentino was sterbelaai met 10 vorige wêreldkampioene asook die dubbele huidige wêreldkampioen, Susanne Ljungskog van Swede.

Die toer het 5 kategorie 1-klimme bevat oor vier dae en die derde skof is teen ‘n gemiddelde snelheid van 40.8km gewen. ‘n Mens kan nie anders as om dit as ‘n toer van werklike wêreldgehalte te bestempel nie.